Back to results

North-West University

Toepassingswaarde van 'n pasgemaakte perseptueel-motoriese bewegingsontwikkelingsprogram by vier- tot sesjarige leerders in die Vaalharts omgewing

Abstract

dc:description.abstract

Voldoende perseptueel-motoriese ontwikkeling is belangrik vir jong kinders se algehele huidige, maar ook voortgesette ontwikkeling. Hierdie ontwikkeling word deur verskeie faktore beïnvloed wat onder andere insluit die omgewing waarin 'n kind grootword asook die kundigheid van onderwysers. Kinders wat in lae sosio-ekonomiese omstandighede grootword, word as kinders met 'n groter risiko vir perseptuele en motoriese agterstande beskou; gevolglik lei hierdie situasie daartoe dat hulle hulpverlening ten opsigte van hierdie ontwikkeling benodig. Met hierdie onderhawige verhandeling is gepoog om die sukses te bepaal van deelname aan 'n pasgemaakte perseptueel-motoriese bewegingsontwikkelingsprogram, aangebied deur onderwysers wat opleiding in die aanbieding daarvan ontvang het, om die ontwikkeling van fundamentele en perseptueel-motoriese vaardighede van vier- tot sesjarige kinders uit die lae sosio-ekonomiese Vaalharts-omgewing te verbeter. Die metode wat in hierdie verkennende studie gevolg is, het ingesluit: die opleiding van onderwysers deur middel van 'n werkswinkel, die monitering van die aanbieding van die pasgemaakte program deur vierweeklikse moniteringsbesoeke, asook 'n afsluitingsgroepbespreking na afloop van die aanbieding van die program. Die program onder bespreking is deur die navorser saamgestel. 'n Beskikbaarheid-steekproef, geselekteer uit een skool in 'n lae sosio-ekonomiese omgewing (N = 44), van kinders tussen die ouderdomme vier en ses jaar, het aan die program deelgeneem. Hulle is ingedeel in: a) 'n eksperimentele groep (n = 25), wat vier maande lank, eenmaal per week vir 30 minute per geleentheid aan die program, wat deur die onderwyser aangebied is, deelgeneem het; en b) 'n kontrolegroep (n = 19) wat nie aan die program deelgeneem het nie. Hierdie twee groepe is teenoor mekaar gestel en vergelyk. 'n Voortoets, natoets en retensietoets, twee maande na die natoets, is uitgevoer om vordering asook verskille tussen die groepe te bepaal waar 'n p-waarde van p<0.05 gebruik is om statisties betekenisvolle verskille te bepaal. Die Movement Assessment Battery for Children-2 en die Kinderkinetika Kleuterevaluasie is as meetinstrumente gebruik. Die resultate is aan die hand van afhanklike en onafhanklike t-toetsing ontleed asook met 'n herhaalde metings ANOVA, opgevolg met 'n post-hoc Bonferonni-aanpassing. Die resultate het getoon dat die metode, soos dit vir die studie ontwikkel is, nie die gewenste resultate opgelewer het nie. Probleemareas wat geïdentifiseer is, het ingesluit: oorlading van kennis tydens die onderwysersopleiding, en verder ook 'n komplekse les-samestelling met te veel komponente wat aandag tydens die aanbieding van die program vereis het. Te min opvolgkontakbesoeke van die kant van die navorser, wat tydige monitering en terugvoering gekortwiek het, asook logistieke probleme soos dat die eksperimentele en kontrolegroep uit dieselfde skool geselekteer was, het verdere probleme opgelewer. Hoewel die resultate nie verbetering by die kinders getoon het nie, kan die probleemareas wat in hierdie verkennende studie geïdentifiseer is, soos bespreek in hoofstukke vier en vyf, as riglyne gebruik word vir verdere studies in hierdie verband. Die navorser is van mening dat pasgemaakte programme wel toepassingsmoontlikhede inhou indien die geïdentifiseerde struikelblokke uit die weg geruim kan word. Soortgelyke studies word gevolglik aanbeveel waarin die tekortkominge wat deur hierdie studie uitgewys is, oorkom kan word sodat kinders uit agtergeblewe omgewings se perseptueel-motoriese ontwikkeling suksesvol ondervang kan word.

Degree

thesis:*
Grantor dc:publisher
North-West University
Year dc:date.issued
2019

Author and committee

dc:creator, dc:contributor.*
Author dc:creator
  • Van Reenen, I
Advisors dc:contributor.advisor
  • Pienaar, A.E., Prof
  • Gerber, B.P., Dr

Subjects

dc:subject × 6

Rights

Language dc:language.iso
other

Identifiers

dc:identifier.*
Identifier URI
0000-0002-7641-5953
OAI identifier oai:identifier
oai:repository.nwu.ac.za:10394/34100

Chain of custody

source
Harvested from
North-West University (South Africa)
Base URL
repository.nwu.ac.za/server/oai/request
Last updated
2026-07-24
Source record
OAI-PMH GetRecord
citation

Van Reenen, I. Toepassingswaarde van 'n pasgemaakte perseptueel-motoriese bewegingsontwikkelingsprogram by vier- tot sesjarige leerders in die Vaalharts omgewing. North-West University, 2019. http://hdl.handle.net/10394/34100