Stellenbosch : Stellenbosch University
’n Sielkundig-feministiese ondersoek na trauma en die geleefde ervaring van die vrouekarakters in Valda Jansen se Hy kom met die skoenlappers en Ronelda Kamfer se Kompoun
Abstract
dc:description.abstractHierdie studie ondersoek deur ’n sielkundig-feministiese lens die geleefde ervaring van die vrouehoofkarakters in Valda Jansen se Hy kom met die skoenlappers (2016) en Ronelda Kamfer se Kompoun (2021). Daar word spesifiek gefokus op hoe trauma hierdie ervaring beïnvloed, met verwysing na konsepte uit interseksionaliteit, hoofstroomsielkunde, feministiese sielkunde en literêre traumateorie. In beide romans word die vrouehoofkarakters se geleefde ervaring onderlê deur interseksionele faktore soos ras, klas en gender. Verder bevat beide romans traumatiese gebeurtenisse soos fisieke en emosionele geweld, die dood van familielede, seksuele geweld, middelmisbruik en selfs selfdood. Hierdie traumatiese gebeurtenisse het dikwels hul oorsprong in magsisteme soos apartheid, patriargie en sosio-ekonomiese ongelykheid. Gewoonlik word die trauma via familieverhoudings oorgedra en manifesteer in fisieke en emosionele geweld, selfdood, seksuele mishandeling, dwelmmisbruik en verlies. Hierdie studie toon aan dat hierdie ervarings nie as afsonderlike voorvalle gesien kan word nie, maar dat dit ingebed is in historiese en sosiale strukture wat die strukturele, dissiplinêre, hegemoniese en interpersoonlike domeine van mag weerspieël. Verder toon hierdie studie aan dat die trauma wat die vrouekarakters beleef, hoe uiteenlopend ook al, konsekwent hul reeds gekompliseerde geleefde ervaring verder vorm en beïnvloed. Die navorsing vir hierdie studie spreek ’n leemte in die Afrikaanse letterkunde aan deur geestesgesondheid, spesifiek posttraumatiese stresversteuring (PTSV), saam met ras, klas en gender in te reken wanneer die vrouekarakters se geleefde ervaring ondersoek word. Die hoofnavorsingsvraag fokus op die rol van trauma in die geleefde ervaring van die hoofkarakters en hoe dit in die tekste figureer. Subvrae ondersoek watter blyke van trauma en PTSV voorkom, hoe geestesgesondheid hul ervarings beïnvloed en hoe trauma tesame met interseksionele faktore die geleefde ervaring verder kompliseer. Die studie gebruik ’n kwalitatiewe navorsingsontwerp met teks- en tematiese analise en gebruik die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders, Fifth Edition, Text Revision (DSM-5-TR) as bron om simptome van PTSV te identifiseer. Die sielkundig-feministiese lens verbind psigiese letsels met sosiale strukture wat die karakters se lewens vorm. Narratiewe tegnieke soos fragmentasie, meerstemmigheid en die gebruik van stilte of aggressie as selfregulering word verder ontleed as literêre voorstellings van trauma. Die studie dra by tot navorsing oor swart Afrikaanse vroueskrywers deur geestesgesondheid as interseksionele komponent in te sluit. Dit bied ’n metodologiese raamwerk vir toekomstige ondersoeke na literêre karakters in kontekste van historiese en sistemiese onderdrukking. Deur ’n multidissiplinêre lens bied dit nuwe insigte oor hoe trauma in die Afrikaanse letterkunde verteenwoordig word en hoe dit verweef is met Suid-Afrika se sosiale, kulturele en politieke landskap. Die bevindings wys dat die helingsproses nie net ’n individuele proses is nie, maar afhanklik is van strukturele verandering en die herdefiniëring van kulturele narratiewe oor vrouwees, liggaamlikheid en mag.
Degree
thesis:*- Grantor dc:publisher
- Stellenbosch : Stellenbosch University
- Year dc:date.issued
- 2026
Author and committee
dc:creator, dc:contributor.*- Author dc:creator
-
- Barnard, Marle-Zanne
- Advisor dc:contributor.advisor
-
- Marais, Amanda
Rights
- Language dc:language.iso
- af
Identifiers
dc:identifier.*- Repository record dc:identifier.uri
- https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/135602
- OAI identifier oai:identifier
- oai:scholar.sun.ac.za:10019.1/135602