Back to results

University of Pretoria

'n Kwalitatiewe ondersoek na die emosionele belewenis van enkele Suid-Afrikaanse blanke geskeide mans

Abstract

dc:description.abstract

Afrikaans: Hierdie ondersoek lewer 'n beskeie bydrae tot die verkryging van wetenskaplike kennis oor mans se ervaring en hantering van egskeiding waaroor weinig, veral in Suid-Afrika, bekend is, asook tot die verskaffing van maatskaplikewerk-hulp aan mans wat in Suid-Afrika hierdie lewenskrisis beleef. Ten einde die ondersoek te kon doen, is die doelstellings van die ondersoek soos volggestel: Om deur middel van 'n verkenning van die bestaande literatuur oor egskeiding die sentrale teoretiese modelle te bepaal en te beskryf wat deur sosiaal-wetenskaplikes gekonstrueer is om egskeiding te begryp, en terapie te verskaf aan diegene wat daardeur geraak word. Om deur middel van 'n plooibare navorsingsbenadering, te wete die kwali tatiewe model, eerstehandse inligting te bekom rakende enkele geskeide blanke Suid-Afrikaanse mans se sosiale werklikheid, dit wil se hoe hulle sin en betekenis aan hul egskeidings gee. Om te let op die behoefte van die geskeide man aan terapeutiese hulpverlening en op grond hiervan aanbevelings te maak aan die Suid-Afrikaanse maatskaplikewerk-praktyk. Om 'n bydrae tot die metodologie van maatskaplikewerknavorsing in Suid-Afrika te lewer deur prakties te illustreer hoe die kwalitatiewe navorsingstyl wat tot nog toe selde in plaaslike maatskaplikewerk-studies onderneem is, aangewend kan word om geskeide mans se definisies van hul situasies, of meer spesifiek, hul subjektiewe ervarings en interpretasies van hul lotgevalle, te peil en te beskryf. Hoewel vandag algemeen aanvaar word dat een uit elke drie huwelike in Suid-Afrika in die egskeidingshof eindig, is wetenskaplike literatuur oor die probleem in die land beperk. Verder blyk dit dat weinig teoretiese en empiriese inligting spesifiek oor die geskeide man hier te lande beskikbaar is. Hoewel aansienlik meer aandag in die buiteland aan egskeiding gegee word, blyk dit dat sosiaal-wetenskaplikes veral in die geskeide vrou geYnteresseerd is en dat haar eweknie, te wete die geskeide man, verwaarloos word. Nogtans is waardevolle inligting uit die beskikbare literatuur onttrek oor die egskeidingsproses en oor sowel die geskeide vrou as die geskeide man. Die insigte wat van die onderskeie teoretici en navorsers verkry is, was nie alleen nuttig om die data te interpreteer wat tydens die empiriese studie ingesamel is nie, maar hou belofte in vir sowel verdere plaaslike studies van geskeide mans as vir hulpverlening aan hulle. Vyftien geskeide blanke mans is met behulp van die sneeubaltegniek opgespoor en tot deelname aan die empiriese studie oorgehaal. Hierbenewens is twee geskeide mans op dieselfde wyse gewerf om die navorsingsresultate te verifieer. Bestaande riglyne vir kwalitatiewe navorsing is sover moontlik in die studie toegepas en daar is daarin geslaag om, hoewel nie uitvoerig nie, 'n getroue prentjie van die lewensituasie van die geskeide blanke man te beskryf. Die data is verkry deur onderhoude (semi-gestruktureerd maar ook ongestruktureerd) met die respondente te voer en deur dokumente te benut wat hulle vir hul eie gebruik of op versoek van navorser opgestel het. Afgesien van die dokumente is van oudiobande gebruik gemaak en die byhou van notas om die verkree data vas te le. Die data is voortdurend bestudeer en is veral aan die einde van die ondersoek in temas en patrone gekategoriseer en geYnterpreteer met behulp van sekere bestaande teoriee wat tydens die literatuurverkenning afgebaken is. Regdeur die ondersoek is sover moontlik gepoog om faktore te neutraliseer wat die resultate nadelig kon beYnvloed. Die slotsom waartoe uiteindelik geraak is, is dat die lewensituasie van die aantal geskeide mans wat as proefpersone benut is, geldig en akkuraat verken en beskryf is. Die belangrikste bevindinge van die empiriese studie is die volgende: Egskeiding is 'n proses met fases wat onderskei maar nie geskei kan word nie; die geskeide man ervaar verskeie emosionele belewenisse voor, tydens en na afloop van die egskeiding; die aanpassing aan die egskeiding word deur verskillende faktore geaffekteer; egskeiding het 'n effek op die verhoudingslewe van die geskeide man; die godsdiensbeskouing van die geskeide man speel 'n kardinale rol in sy verwerking van die egskeiding en ten slotte het die geskeide man behoefte aan terapeutiese intervensie. Dit blyk dat geskeide mans by maatskaplikewerk-hulpverlening kan baat mits sodanige programme in samewerking met hulle opgestel word.

Degree

thesis:*
Grantor dc:publisher
University of Pretoria
Year dc:date.issued
1992

Author and committee

dc:creator, dc:contributor.*
Advisor dc:contributor.advisor
  • Du Preez, M.S.E.

Subjects

dc:subject × 4

Rights

dc:rights
Statement dc:rights
  • © 2024 University of Pretoria. All rights reserved. The copyright in this work vests in the University of Pretoria. No part of this work may be reproduced or transmitted in any form or by any means, without the prior written permission of the University of Pretoria.
Language dc:language.iso
Afrikaans

Identifiers

dc:identifier.*
Handle dc:identifier.uri
http://hdl.handle.net/2263/103790
OAI identifier oai:identifier
oai:repository.up.ac.za:2263/103790

Chain of custody

source
Harvested from
University of Pretoria
Base URL
repository.up.ac.za/server/oai/request
Last updated
2026-07-24
Source record
OAI-PMH GetRecord
citation

'n Kwalitatiewe ondersoek na die emosionele belewenis van enkele Suid-Afrikaanse blanke geskeide mans. University of Pretoria, 1992. http://hdl.handle.net/2263/103790